Die donker woud was ‘n gevreesde plek vir oud en jonk, mens
en dier. Net diegene wat nie van beter
weet nie, het in die woud gegaan.
Muishond weet nie van beter nie. Hy dink dat dit onnodig is om bang te wees
vir die woud. Hy loop elke dag so na as
moontlik aan die gevreesde woud net om te kyk wat die ander diere se reaksies
is.
Sommige diere lag vir Muishond en sê hy is verwaand om in
die woud te loop. Ander ignoreer hom net
en dink hy soek aandag. “As Muishond
iets sou oorkom, sal dit sy verdiende loon wees”, is die meeste diere se
houding. Maar dan is daar Wilde vark wat
vrees vir Muishond se lewe.
Wilde vark is baie gewild onder sy maats. Hy is altyd opgewek en trippel die wêreld vol
op soek na geselskap. Hy geniet dit om
elke dier se stories te hoor, en luister aandagtig na elkeen wat ‘n oor nodig
het. Hy is lief vir die lewe, en hy maak
geen geheim daarvan nie.
Een aand, toe dit al baie donker is en almal al vas aan die
slaap is, lê Wilde vark nog wakker en dink aan Muishond. Wilde vark is nie iemand wat sy snoet in
ander se sake steek nie, maar dit is miskien tyd dat iemand met Muishond moet
gesels oor sy waaghalsigheid. Wilde vark
besluit daar en dan dat hy die volgende oggend na Muishond se gat toe sal gaan,
en die saak met hom gaan bespreek.
Vroeg die volgende oggend is Wilde vark by Muishond se
huis. Hy klop aan muishond se voordeur,
en hoor hoe Muishond vinnig skarrel om uit te kom om te sien wie dit is wat kom
kuier het.
“Goeie more, Muishond!”
groet Wilde vark. Muishond groet
terug en nooi vir Wilde vark opgewonde binne.
“Waaraan het ek jou besoek te danke, Wilde vark? Dit is nie aldag dat jy so naby die donker
woud kom besoek af lê nie. Maar dan nou
weer is daar niemand wat regtig naby die woud kom besoek af lê nie!”
“Dit is juis waaroor ek met jou wou gesels, Muishond. Ek is bekommerd oor jou, en verstaan nie
waarom jy jou lewe waag deur so naby aan die woud te bly nie. Jy weet dat ek my nie ophou met ander se doen
en late nie, maar hierdie is ‘n uitsondering. Jy is my vriend, en ek is besorg
oor jou”
“Ag Vark,” sê Muishond.
“Dis tog nie nodig dat jy jou so bekommer nie. Jy weet mos die stories oor die donker woud
word altyd oordryf. Diere is net bang
vir dinge wat hulle nie verstaan nie.’
Vark besef die gesprek gaan nie baie goed af nie. Dis asof Muishond nie besef in watse gevaar
hy is nie. Hoe kan Vark sy vriend help
as Muishond nie eens besef hy het hulp nodig nie? Vark besluit om dan maar te doen wat hy nog
altyd doen vir sy vriende, en dit is om te luister.
“Nee wat,” sê Muishond, “kom ek skink nog vir jou ‘n koppie
tee sodat jy kan bedaar.” Muishond drink
aandagtig aan sy tee, en dit lyk of hy diep ingedagte is.
Vark besluit om Muishond so ver te kry om oor die woud te
praat, daarom vra hy: “Hoe diep was jy al in die woud, Muishond? En wat sien jy daar? Is dit regtig so koud en donker soos wat
almal sê?”
Muishond kyk lank in sy teekoppie, en kyk dan op, reguit in
Vark se afwagtende oë. “Vark, kan ek jou
‘n geheim vertel?” Vark is verbaas oor
Muis se skielike geheimsinnige reaksie.
“Natuurlik Muis, jy weet mos jou geheime is veilig by my”.
Muishond lag uitbundig.
“Ja Wilde Vark ek weet. Maar wat
ek jou gaan vertel is nie so maklik om te glo nie, en sou jy dit oorvertel, is
daar diegene wat mag sê dat jy nie heeltemal al jou miervreters in ‘n hok het
nie! Hulle mag dalk sê dat die sinlike
Wilde Vark ook nou sy verstand verloor het na sy kuiertjie by mal Muishond.”
Vark is nou meer deurmekaar as voorheen, maar sy aandag bly
vasgenael op Muishond.
Muishond bedaar en kry weer ‘n ernstige uitdrukking op sy
gesig. Hy leun voorentoe en begin stadig
fluister: ”Ek was al reg in die middel van die donker woud. Dit is nie donker daar soos in die res van
die woud nie” Muishond se oë glinster opgewonde en staar droomverlore voor hom
uit. Eers toe Vark aan sy arm vat, word
Muishond bewus van waar hy is, en begin weer verder vertel.
“Daar is die heerlikste vrugte wat daar groei, en jy kan
soveel daarvan eet as wat jy wil. Jy mag
net nie meer pluk as wat jy dieselfde dag gaan gebruik nie, want dit word baie
gou vrot. Ek kon dus lank daar vertoef, in die middel van die woud. Vir dae het ek net myself as geselskap gehad